Dis algemene kennis dat mense, geloofsgroepe en kerke anders is omdat hulle die Bybel verskillend verstaan en verkondig. Dis nie nuut nie en ook nie vreemd nie. Die skrywer toon egter met hierdie boek aan dat die dinge effens meer kompleks is. Ons kan met redelike sekerheid aanvaar dat geen twee mense presies dieselfde inhoud gee aan hulle geloof in God, die Evangelie en die Bybel nie. Selfs wanneer gelowiges op dieselfde vraag dieselfde antwoord gee, beteken dit nie dat hulle dieselfde inhoud gee aan hulle antwoorde nie.
Hierdie boek sal egter nie vir alle Christen lesers gemaklike leesstof wees nie. Alhoewel dit so geskryf is dat dit geensins die leser van spesifieke inhoude wil oortuig nie, is die terugvoer van ‘n groep kritiese lesers dat hulle die boek baie uitdagend ervaar het.
Nie omdat die skrywer en die inhoud van die boek die leser konfronteer nie, maar omdat die lesers hulleself konfronteer met wat die inhoud van hulle eie geloof is.
Die boek lees maklik. Dit is geskryf vir almal wat belangstel in die manier waarop ons glo en dit is veral geskik vir gesprekke rondom die tema van geloof, eenheid en diversiteit.
Jesus het telkens tydens sy aardse bediening die mense waarmee Hy gewerk het in húlle geloofsposisie ontmoet. Die boek help die leser om Jesus se voorbeeld met begrip te volg.
